Renee Visagie - Brits
Hi Mariaan,
Ons was definitief in dieselfde jaargroep. Ek onthou ook vir Christi, Magda, Yolandi en die res. Ek was in dieselfde klas as Belyda de Jager, Sarie-Louise van der Westhuizen met Huisvlyt en Biologie, Tik en Rek as vakke. Ons het dalk iewers saam Rek gehad.
Ek sal een of ander tyd bietjie fotos op facebook sit.
Ek het direk na universiteit n onderwyspos gekry by Hoërskool Fochville. Later was ek lektor by die Tegniese Kollege in Carletonville, maar het na 17 jaar in die onderwys bietjie moeg daarvoor geraak. Ek het bedank en van my huis af n Teetuin bedryf. Dit was nogal lekker, maar omdat ek dit net op Vrydae gedoen het, het dit later maar bietjie alleen by die huis geword. Ek was bly toe ek weer n pos by die Hoërskool gekry het. Ek het in November bedank omdat my man werk gekry het in Vancouver, Kanada. Ons sit tans en wag vir die werkpermit van die Kanadese ambassade, daarna moet ons nog ons medies doen en daarna kan ons vlieg.
Ons het nou al soveel van ons goed verkoop dat my huis skoon leeg lyk. Ons moes al Januarie gevlieg het, maar die prosesse en dinge is maar lekker uitgerek.
Ek hoop jy geniet jou dag, ons praat later weer.
Renee (O ja, My nooiensvan was Visagie)
_______
Hi Mariaan
Dankie vir al die links wat jy vir my gestuur het. Ek het noudie aand tot laat gesit en fotos kyk en lees aan almal se kommentaar. Ek kan amper nie glo hoe groot julle kinders almal al is nie. Lyk my ek is n late bloomer, want my dogtertjie is nou eers 7 en n half en in graad 2! Wow! Maar nou ja, ek en Abraham het eers die wêreld vol gevlieg en allerhande plekke gaan opsoek voordat ons uiteindelik met haar geseën is. Sy is gebore die dag na my 36e verjaarsdag, en ek kon nie vir n beter geskenk gevra het nie!
Dankie, ek het die uitnodiging gekry na die kuier by Mugg & Bean Vrydagaand. Ek wil nogal graag daar wees, sal net reël met my broer of sus dan slaap ek en Talita sommer daar oor en sy kan bietjie by haar niggie kuier. Sal nie graag in die aand wil terugry Fochville toe nie, veral nie as Abraham nog werk nie.
Jong, ek probeer nog fotos bymekaar maak om op my FB album te sit, maar die meeste van my goed is al ingepak om op die skip te gaan na Kanada, dus sal dit n redelike soektog afgee. Ons leef op die oomblik maar taamlik spartaans. Dit wat nie al verkoop is nie, is weggegee of ingepak, so ons huis lyk maar skraal. Boonop lyk dit nie asof ons voor Junie kan vlieg nie. n Beproewing, maar ons glo en vertrou dat ons op presies die regte dag en tyd in Kanada sal aankom.
Groete daar en geniet jou week. Ek hoop om julle Vrydagaand te sien. Hoe lank verwag jy dat die kuiertjie sal aanhou. (Jong my leestekens wil nie werk op die laptop nie, nou lyk dit of ek nie kan tik nie - jammer!)
Renee